Botswana Kgalagadi – April/Mei 2007

Ons verlaat die Kaap die Donderdagoggend, 26 April, tussen 02h30 en 03h00 en moet mekaar by Piketberg se vulstasie kry teen 04h00. Dit gaan’n harde dag se ry wees.

Adrienne en Koos, Christo en Sunet, Marinus en Lize, Alfred en Elsabe met Garner is almal daar. Ons verneem dat Marais se Rangie nog nie reg is nie en dat hy en Annatjie sal probeer om op te vang. Die manne klap ‘n paar Red Bulls en ons begin die lang tog na McCarthy’s Rest, plus minus 1200km wat ons in eendag moet aflê.

Ons gaan oor die Piekenierskloof pas en verby Citrusdal en Clanwilliam en stop gou by Vanrhynsdorp vir ‘n biologiese breek en ‘n warm ‘toasted sandwich’. Ons besluit dat ons ‘n bietjie sal stop op die Vanrhynspas om die son opkoms te sien en die broodjies te eet, maar daar gekom is alles toe gemis en ons besluit maar om anderkant die pas gou te stop aangesien Adrienne se Discovery Tdi in 2de die pas moet opgaan met Koos se waentjie en ook nie momentum wil verloor nie.

Anderkant die pas stop ons vinnig, eet die broodjies en skuif aan verby Nieuwoudtsville tot by Calvinia. Ons stop by die uitgaande vulstasie in
Calvinia en kry gou ‘n lekker koppie plastiek koffie en maak die brandstoftenks vol.

Ons vat weer die R27 en gaan deur Brandvlei en Kenhardt tot in Keimoes. Hier stop die R27 en die wereld verander. Wingerde is volop te sien as gevolg van water wat deur die Oranjerivier verskaf word. Ons doen die laaste klein stukkie tot in Upington, maar dit vat ons langer as wat ons
verwag. Die klein stukkie is baie besig en wemel van die groot trokke. In Upington kry ons weer diesel.

Nou druk ons deur tot by Olifantshoek waar ons stop by ‘n slaghuis vir biltong en droewors. Ons gaan verder tot by Kathu waar ons vir oulaas volmaak by ‘n baie besige vulstasie. Ons gaan so bietjie op ons spore terug en vat die R380 na Hotazel. Anderkant Black Rock stop die teerpad en begin ‘n gryspad wat nie in te slegte kondisie is nie. Ons stop ‘n bietjie om bande af te blaas, drink ‘n biertjie en vat die 100km lange gryspad aan.

Ons kom so teen 18h30 in McCarthy’s Rest aan en gaan na die Kalahari Ranger’s Lodge toe. Daar wag Pieter vir ons. Hy is die hoofkok/bestuurder van hierdie inrigting en is baie gasvry. Hy wys vir ons die kamers waarin ons gaan slaap en sê ons moet ‘n drankie by sy kroeg kom drink. Na ‘n lekker swem in die swembad en ‘n stort voel meeste van die mense darem beter alhoewel nog steeds moeg van die dag se ryery. Ons drink ‘n paar ‘ramme’ by Pieter se kroeg terwyl hy ‘n groot vuur aansteek en die onbeende blesbokboud vir ons begin voorbery. Die ‘party’ skuif na die groot vuur toe en ons drink ‘n paar wyne en vra Pieter uit oor die Lodge. Na ‘n fantastiese ete, besluit almal om maar
te gaan inkruip.

Die volgende oggend staan elkeen maar op sy eie pas op en begin stadig voorberei vir die dag. Die swart stortsakke word volgemaak en Pieter gee vir ons lekker vuurmaakhout om saam te vat. Na ‘n hotel ‘brekfis’ gaan ons af na die grenspos toe. Alles gaan goed en ons gaan deur. Christo besluit om vir Marais te wag en die ander gaan voort nadat ons aan die Botswana kant 12c per liter moet betaal vir alle diesel wat ons inbring wat nie in jou voertuig se tenk is nie.

Ons stoot deur tot in Tsabong en maak weer diesel vol.

Alfred soek vergeefs na ‘n plek wat bier verkoop. Christo en Marias kom daaraan na ‘n halfuur. Marais se Rangie is nog steeds nie soos hy moet wees nie, maar hy ‘override’ die lugsuspensie en ons kan darem voortgaan.

Net so entjie buite Tshabong begin die 110km lange grondpad na die Mabuasehube wildreservaat. Hier is waar die ongeluk ons tref. Op ‘n baie vernynige draai (GPS: S 25 deg 41.985 min; E 022 deg 17.205 min) verloor Adrienne beheer oor sy Discovery en tref ‘n boom. Koos se waentjie hak in die proses af en rol. Chaos!

Die Discovery lyk nie of hy so seer gekry het, dat hy nie sal kan aangaan nie, maar hy wil nie loop nie. Koos se waentjie het baie seer gekry. Die as het geskuif, die vere is gebuig en die daktent het heeltemal van die waentjie afgeskeer. Gelukkig het Koos en Adrienne niks oorgekom nie.

Nou is dit tyd vir ‘bush repairs’. Iets waarin Koos baie goed is. Die waentjie se vere word reggebuig, die as word geskuif en die daktent word weer op die waentjie vasgetrek met bande. Intussen stop Hennie en sy manne van overland.co.za en begin ons help. ‘n ‘Pressure tank’ van een van Hennie se manne pop een van die bande wat afgekom weer terug om die rim. Die Discovery wil  nog steeds nie loop en dit lyk of die ‘silinoid’
op die dieselpomp nie reg werk nie. Ons klim op die satelietfoon, maar ons vergeet dit is ‘n vakansie dag in die RSA en sukkel om iemand in die hande te kry. Uiteindelik kry ons vir Nekkies van Wellington in die hande. Hy gee vir ons raad, maar dis allles te vergeefs, die Discovery wil net nie loop nie.

Een van Hennie se manne sal Koos se waentjie tot by die hek van die wildreservaat sleep, maar wat maak ons met die Discovery? Ons besluit om hom terug te sleep Tsabong toe. Christo hak die Discovery met sy Cruiser en die ander manne gaan aan na die wildreservaat toe. Net om die eerste draai besluit Adrienne om gou vir oulaas te probeer. Ja, daar loop hy!

Christo en Adrienne draai om en kry die ander net voor die diksand gedeelte waar hulle besig is om bande af te blaas. Ons doen die laaste 53km en kom laat by die hek aan. Een van die bewaarders se^ ons kan maar voor die hek kamp en dan die volgende oggend ingaan.

Nou moet Koos en Adrienne kyk hoeveel skade daar is. Dit lyk maar sleg, baie goed is gebuig en die daktent self het ook maar seer gekry. Na ‘n bietjie getimmer kry hulle darem die daktent opgeslaan en dit lyk darem nie te sleg nie. hulle maak die laai oop en al wat hulle verloor het is een eier en ‘n houer melk. Koos se tuisgemaakte laai het gewerk soos ‘n bom!

Dit is Christo en Sunet se beurt om kos te maak. Hulle braai skaap tjops tesame met ‘n lekker mieliepap gereg. Dit was maar ‘n rowwe dag so die mense gaan maar vroeg slaap.

Die volgende oggend vroeg staan ons op, word oorval deur neushoringvoels wat baklei oor wie wat gaan kry, slaan tente af en gaan deur die hek.  Ons ry tot by die Khiding pan en kry ons vriende daar wat ons by die ongeluk gehelp het. Ons begin deeglik kamp opslaan aangesien ons hier vir ‘n paar dae gaan bly. ‘n Lastige, koue windjie maak dinge bietjie onaangenaam en ons moet die warm klere uithaal. Ons sien baie springbokke, gemsbokke, blesbokke en so nou en dan volstuise op die pan. Verder maak ‘n rooiborslaksman ook so nou en dan sy verskyning.

Dit is Koos en Adrienne se beurt om die kos te verskaf: Steak, Koos se chips en ook ‘stirfry’. ‘n 5.5kg rump en ‘n halwe sak aartappels word vir die doel aangewend. Almal gaan slaap en toe kry ons ons eerste ‘besoeker’. ‘n Bruin hiena besluit om een van ons vuilgoeddromme vir ‘n uitstappie te neem te same met ‘n doos rooiwyn. Gelukkig word Christo en Marinus wakker en kan hom betyds verwilder. Ons hoor van Hennie later dat ta ‘n halwe pot potjiekos by hulle opgeeet het.

Die volgende dag hang die mense maar in die kamp rond. Party gaan vir ‘n ‘game drive’ en ander sit maar net in die son en probeer ‘n bietjie hitte vang. Annatjie maak ‘n bottel vonkelwyn oop, maar Lize wil iets meer ‘vrugtig’ heê. Dit was genoeg om die manne se koppe aan die werk te sit en die idee van ‘n ‘punch’ onstaan. Marinus gryp ‘n 5 liter emmertjie en loop by almal verby vir ‘n donasie. Donasies op die ou end bestaan uit vodka (baie daarvan), rum, vonkelwyn, wit wyn, tequila en dan vrugte sappe en baie ys. Dit gee bietjie voema aan die partytjie en Marais vat ‘n vroee middagslapie.

Marais en Annatjie moet kos maak en op die spyskaart is koedoe/skaap potjie met kaboemmielies. Nadat almal trommeldik geeet is en daar maar min van die potjie oorbly het, besluit meeste van die mense om maar vroeg te gaan inklim. Ons besoeker is weer terug later die aand, maar hierdie keer het ons die goed beter weggesteek en kry hy niks van belang nie.

Vroeg die volgende oggend gaan die manne weer op ‘n verkenningstog en word beloon met ‘n paar leeus (3 welpies, 3 wyfies en 1 mannetjie) wat hulle teekom. Terug by die kamp sien ons dat Hennie en sy manne reeds opgepak en vertrek het. Later die aand se ‘game drive’ lewer niks op nie.

Marinus en Lize moet die aand se kos verskaf. Vir ‘n ‘oudufie’ maak hulle kalaharie oesters of te wel murgbene wat in ringe gesny is en dan saam met uie gebraai word. Gooi so bietjie Tobasco by en jy sit met een van die lekkerste disse wat ‘n mens in die veld kan voorberei. Oppas net, want die karakters is ryk en meer as twee kan maak dat jou gal jou sal rond jaag. Vir hoofgereg het ons lekker stadig gebraaide hoender met gekookte aartappels gekry. Dieselfde aand het ons besoeker weer teruggekom, maar ons was reg vir hom die keer. Gewapen met kameras het Marinus, Christo en Koos ‘n paar goeie skote ingekry.

Die volgende oggend het ons vroeg opgestaan en die 200km lange pad na Nossob aangedurf. Alfred was bietjie onder die weer en ons was nie seker of dit die vorige aand se oesters was nie. Elsabe het maar toe bestuur en dit was nie lank nie of Lize het by Marinus oorgevat. Halfpad het ons by Matooi gestop en ‘n ietsie gedrink en geeet. Weer op die pad moes ons stop vir Marais se Rangie. Olie het iewers uitgestroom. Gelukkig kon ‘Bush Mechanic’ Koos vinnig die probleem opspoor, die pyp vasdraai en olie ingooi.

By Nossob aangekom het ons eers die skade probeer bepaal wat die pad aan die inhoud van die waentjies gedoen het. Gebreekte eiers en sakke meel wat oopgegaan het moes eers skoon gemaak word. Vanaand moet elke ou maar vir hom self sorg. Almal kom by Marais en Annatjie se plek bymekaar en braai ietsie behalwe Koos en Adrienne wat besluit dit is tyd vir ‘n pasta en skaapskenkel pot. Die enigste persoon wat ontbreek is Alfred wat nog nie te wel is nie.

‘n ‘Game drive’ om Marie se Draai lewer nie veel die volgende oggend op nie. Ons pak op en vertrek na Polenswa wat omtrent so 60km van Nossob is. Die pad is heel goed en ons kry baie wild – van gemsbokke, springbokke tot by wildebeeste – hordes van hulle by drinkgate.

Almal slaan weer kamp op en begin rustig verkeer. Later die aand gaan almal weer op ‘n game drive, maar behalwe die asemrowende sonsondergang sien ons nie te veel nie. En toe sak die lastige meneertjies op ons toe. Koos se skoene is die eerste item wat in die slag bly. Daarna verdwyn ‘n sak hoender die bos in. Later die aand is Adrienne se skoene ook opgevreet deur jakkals se kind. Alfred en Elsabe is op om kos te verskaf aan die groep. Hulle verras ons met ‘n Meksikaanse gereg van tortillas en spicy hoender en bees strips tot by gaugamole. Die mense eet tot hulle kreun.

Vroeg die volgende oggend staan almal op om Union’s End toe te gaan. Die plek waar Botswana, Suid-Afrika en Namibie bymekaar kom. Na ‘n fris ontbyt wat nie deur die hartstigtings vereniging van Suid-Afrika goed gekeur sal word nie, gaan ons verder Noord. Die groep word beloon deur ‘n uitstekende sig van ‘n luiperd in ‘n boom wat heel rustig le^. Koos en Adrienne druk verder deur na Union’s End terwyl die ander sit en wag vir die perfekte kamera skoot. By Union’s End gaan daar maar net niks aan. Adrienne en Koos teken die register en vat weer die pad terug na die kamp. Oppad gaan hulle verby die manne wat nog steeds sit/le^ en wag vir kat se kind om uit die boom te klim.

Later die middag kom die kameramanne met groot vreugde by die kamp aan. Ja, hulle was beloon. Die luiperd het toe so bietjie gaan soek na iets om te peusel en toe hy nie ‘n gestreepte jakkels kon bykom nie, het hy ‘n bakoor voor sy gat gaan vang. Alles is op video vasgevang, ‘n ‘once-in-a-lifetime’ oomblik.

Aan die kook is Koos en Adrienne. Hulle maak ‘n koringpot sonder koring. Uiteindelik maak hulle toe sommer twee potte. Een met pasta en die ander een met ‘n bietjie groente wat van Elsabe geskollie is. Weereens eet almal hulle half oorhoeks en gaan kruip in.

Die volgende oggend word daar weggespring met ‘n hoenderlewer ontbyt. Die wat dit nie eet nie, sorg maar vir hulle self. Daar is nog baie kos in almal se yskaste en dit lyk na die ideale geleentheid om bietjie skoon te maak. Dit draai uit op ‘n baie lui dag, en nie lank nie of die P-emmer en die ‘lie dices’ kom uit. Hier kom moeilikheid. Die P-emmer word so bietjie sterker gebrou die keer, want dit gaan die strafdop word en ‘n mens wil dit mos darem ook nie te maklik maak nie. Die vrouens speel ‘wat-maak-jou-kwaad-wat-maak-jou-bly’ en die mans antwoord ook so nou en dan.

Die P-emmer hou darem so tot laat middag en toe ons begin om weer een te ‘kickstart’, begin Annatjie haar goed regkry vir die aandete. Marais help fluks en Annatjie moet hom so nou en dan uit die vuur trek – ‘laai dice het nie brieke nie’. Annatjie sit vir ons die lekkerste Kudoe steaks met deeg en Nabassous voor. Heerlik – dit is ‘n wenner. Niemand wil te laat kuier nie, want more is weer ‘n lang dag.

Die volgende oggend begin ons kamp opslaan en begin die eerste stuk van die lang pad terug Kaap toe. Ons ry tot in Nossob, kry brandstof en vertrek toe na Twee Rivieren. Daar hergroepeer ons weer ‘n bietjie en maak ‘n draai in die curio winkel. As gevolg van die swak reputasie wat die Twee Rivieren na BBookkssppiittss pad aan die Suid-Afrikaanse kant het, besluit ons om aan die Botswana kant te bly. Ons verduidelik by die Botswana grenspos in Twee Rivieren en hulle laat ons deur. 60km se grondpad later kom ons in Bokspits aan. Na ‘n gesoek kry ons die Botswana pos – dis ‘n ‘one-man-show’. Ons is net betyds, die pos maak 16h00 toe en ons moet nog aan die Suid-Afrikaanse kant ook ingaan. Gelukkig loop alles darem vlot.

Die Molopo Lodge is darem net om die draai en almal wil net so gou as moontlik afpak, ‘n stort vang en ‘n biertjie of twee afjaag om die stowwerigheid uit die keel te kry. Deel van die aand se opwinding sluit die Bulle se vernedering van die Reds in met ‘n telling van 92-3 en verseker vir hulle ‘n plek in die semi-finaal. Na ‘n lekker aansit ete begin die manne maar een vir een na die kamers toe beweeg….more begin ‘n lang pad terug Kaap toe.

 

(17) views

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.