Weskus Eco Trail – Januarie 2009

‘n Paar van die manne het besluit om vir so week of wat langs die Weskus op te gaan en ‘n bietjie in die middel van nerens te gaan staan.

 

 

***** Dag 1 – Saterdag *****

Wel, ek het besluit dat ek nie tot die Maandag gaan wag nie. Chris en Christo is nog in Mosselbaai, Marinus is besig om ‘n nuwe Defender aan te skaf en my vakansie het klaar begin. So, na ‘n lang gepakkery, waar ek net soveel gepak het vir my vorige vakansie vir twee mense en drie weke lank, en ook nadat die drankwinkel my nie met al my drank wou laat gaan nie (glo nuwe drankwet van
hierdie jaar af) het ek die Saterdagmiddag so teen 13h00 uit Tableview vertrek – my oorspronklikke bestemming, Paternoster.

Ek is met ‘n draai na Paternoster toe, eers deur Moorreesburg en Hopefield en daarna Vredenburg ensovoorts. Groot skok wag vir my in Paternoster: Die straat voor die hotel lyk soos Tygervallei sentrum net voor Kersfees – een helse miernes. Die hele atmosfeer in sy moer in! Ek is sommer disgusted! Maar ek besluit tog dat ek ‘n dop in die Panty Bar gaan drink. Ek gaan nou nie weer uitbrei oor die Panty Bar nie, almal ken hom, dis een helse lekker kuier plek. Met die instap sien jy die Gauties. Jammer as iemand van die noorde hierdie lees en ek verstaan alles van geld wat die mense van die noorde Kaap toe bring, maar hierdie is nie hoe jy Paternoster moet ervaar nie. Al die flair en geheimsinnigheid is weg – gone.

Vinnig gooi ek ‘n paar biere gevolg deur ‘n paar Cappies weg, net om bietjie van die irritasie weg te vat. Nou hou ek maar dop. Daar is twee nuwe gesigte agter die bar wat ek nog nie voorheen gesien het nie, twee barmoerders, Vlooi en Aliza. Aliza meer die stil een en Vlooi skerp soos ‘n Minora. Dis ook dan Vlooi wat gesorg het vir een van die beste comebacks wat ek in ‘n tyd gehoor het. Op ‘n aanmerking van een van ons vriende van die noorde wat so gegaan het:

“Jy sal my nie dronk kry nie”

was daar ‘n vinnige sweepslag van haar:

“Liefling, as ek met jou klaar is, sal jy jou eie voël nie erken nie”

Net panties wa jy kyk

Hier gaan die drank nie sommer op raak nie

Links: Aliza, die stillerige een. Regs: Minora Vlooi

Ken, die barman

Na nog ‘n botteltjie wyn het ek agtergekom dat ek nie in Paternoster sal kan bly nie – alles vol bespreek. Ken, die ander barman, beveel toe aan dat ek St Helena probeer, glo baie nice hotel. Ek is toe die aand so 19h00 daar weg en vat die grondpad na St Helena wat jy net so buite Paternoster kry. Wat ‘n ongelooflikke kak pad! Gelukkig het ek nog my eie tande in want ek sweer ek sou haasbek anderkant uitgekom het met valstande!

By die hotel word ek baie vriendelik gehelp en binne ‘n japtrap het ek my kamer vir die aand – R350. Die kamer is baie netjies en funksioneel maar die beste van alles is natuurlik die view. Wil nie weet wat jy vir so ‘n view sal betaal in Kampsbaai nie. Nadat ek myself vinnig tuis gemaak, is ek af na die bar toe – hoe anders – maar dis maar stil en ‘n bietjie van ‘n anti-klimaks na die Panty Bar. Ek bestel ‘n pizza en kry twee vir die prys van een. Na die pizza het ek maar besluit om dit ‘n dag te roep en gaan slaap.

Foto uit kamer geneem

 Nog ‘n foto uit die kamer geneem

En dan ‘n foto van oor die pad

Voor aansig van St. Helenabaai hotel

***** Dag 2 – Sondag *****

Die R350 sluit ontbyt in, maar ek was nog so dik van die vorige aand se pizza dat ek maar net ‘n paar glase sap gevat het. Ek besluit toe om bietjie die area te verken en ry tussen Brittaniabaai en Stompneusbaai rond vir ‘n uur of wat. Hierdie is ‘n baie mooi area wat baie beskut is teen die bedrywighede van die buite wereld.

Volgende stop – Elandsbaai. Ek vat die pad en gaan deur Veldrif en Dwarskersbos. By die tyd wat ek in Elandsbaai aankom, is ek al lekker honger. Gaan by die Elandsbaai Hotel in en bestel vir my ‘n omellete in hul nuwe restaurant. Die karavaanpark, net onder die hotel, is stampvol. Ek moet tog nog eendag hier kom staan vir ‘n paar dae. Ek besluit om so bietjie in Elandsbaai rond te ry, maar die dorp is maar bitter klein en ek vind my vinnig op die tolpad – die fooi is R20 – oppad na Lambertsbaai.

Die karavaanpark net onder Elandsbaai hotel

Foto van die nuwe restaurant hotel

en op ‘n ander angle

Bekende gesig van die hotel van voor

Nou sien, hierdie tolpad kan ek verstaan. Die geld wat ingesamel word, word gebruik om die pad die heeltyd te skraap en in stand te hou. Nie soos die Du Toitskloof tonnel wat ek alleen al seker drie keer gefinansier het nie. Al probleem hier nou is, die pad is jare terug geskraap. Darem ‘n bietjie beter as die pad tussen Paternoster en St Helena, vat ek hom maar aan teen so 50km/h. Ek word beloon deur die Saldanha-Sishen trein wat my verbysteek – altans ek dink dit was hy – en probeer die aantal trokke tel. By 300 toe stop ek. Hierdie is een moerse lang trein. By die hek aangekom, vra ek die sekuriteitsman hoekom die pad so sleg is. Hy sê baie mense kla en die pad is lanklaas geskraap. Die munispale werkers begin eers weer die 16de Januarie te werk. Ek verstaan nie lekker wat hy bedoel met werk nie en neem maar aan hy bedoel hulle is dan maar net weer terug.

Die Saldanha-Sishen erts trein

Van die enjins in die middel van die trein

In Lambertsbaai het ek nie lank vertoef nie. Die plek lyk besig en daar is ander plekke waar ek eerder ‘n bietjie meer tyd sal wil spandeer. ‘n Paar kilometer buitekant Lambertsbaai vat ek ‘n grondpad op die linkerkant en werk nog deur ‘n stukkie slegte pad – net so onder die 50km. Jy kom dan in Doringbaai aan wat ‘n verskriklike mooi dorpie is met nog ‘n baie sterk vissersdorp gevoel. Nou is ek al lekker dors en val by ‘n pub in met die naam van Cabin Pub. Waar die Panty Bar panties versamel, versamel hierdie pub keppies. Daar is ‘n lekker atmosfeer hier en ek verstaan dat die restaurant se kos baie lekker is.

Doringbaai se ‘logo’

Manne opsoek na ‘n krefie

 Ou visfabriek – nie seker of dit nog in  produksie is nie

Een van die mooiste dorpies langs die  weskus

Ek drink twee biere en besluit om gou te gaan kyk hoe dit in Strandfontein lyk. Nou ek was meer as 20 jaar laas in die dorp, en mense het hy verander. Soos te verwagte, is dit druk besig en ek moet sê dat die hele atmosfeer my ‘n bietjie aan Hartenbos laat dink. Hoe dit ook al sy, dis te besig vir my en ek vat weer die pad terug na die Cabin Pub.

Strandfontein

Bekend vir sy lang, wit strand

Drink nog ‘n bier en die barman verseker my dis beter om verder noord te gaan as jy by Vredendal wil uitkom as om die weer die grondpad te vat. Ek slaak ‘n sug van verligting. Dankie tog, ek het genoeg sinkplaat vir eendag gehad.

 Cruiser en Land Rover: Kyk hoe rustig hang die twee
langs mekaar.  Base seker iewers besig om te baklei.

‘n Paar locals in die bar

Die Cabin Pub van voor Nou die pad noord gaan skrams by Lutzville verby, maar ek besluit om maar eers die dorpie te mis aangesien ek seker die volgende dag daar sal deurgaan oppad Koekenaap toe.  En daar kom ek Vredendal binne. Al wat kort in Vredendal op ‘n Sondagmiddag is daai tolbosse wat in die Westerns so oor die pad waai. Op ‘n Sondagmiddag is hierdie plek dood – en ek bedoel mors vrek!. Ek ry die plek op, opsoek na ‘n watergat en/of restaurant – maar net mooi niks. Gaan eers na die Maskam Hotel om myself in te boek, maar dit lyk maar ‘n bietjie verlate en ek besluit om eerder in die Vredendal Hotel te gaan bly. Pryse is redelik – R345 met ontbyt – en daar is lekker parkering met ‘n sekuriteitswag wat saans patroleer. Ek vra bietjie by ontvangs rond vir watergate, maar tervergeefs. Dis hoe ek nou toe opland in die Big Creek Spur in Vredendal. Definitief nie my favourite tipe plek nie, maar ek moet sê die diens was baie goed – seker ook ‘n bietjie te doen met die feit dat daar 2 waiters was vir elke klient – en ek kry toe uiteindelik my yskoue botteltjie wit wyn.

Die wingerd lyk baie mooi die tyd van die jaar rondom Vredendal en Lutzville

Gelukkig het die Vredendal Hotel ook ‘n pub wat Sondae oopmaak, net van 18h00 to 21h00, maar dis beter as niks. Het daar ‘n bietjie gaan afkoel, met die locals bietjie gepraat en toe is ek na die On The Menu restaurant wat die hotel se eie restaurant is, om ‘n burger te eet. Nog ‘n glasie wyn en toe is dit tyd vir die bed.

***** Dag 3 – Maandag *****

Die volgende dag vat ek ‘n vroeg ontbyt in die hotel restaurant en begin my soektog na ‘n visstok aangesien ek myne by die huis vergeet het. Ek kry ‘n redelike stok vir ‘n redelike prys – R265 – by Maskam Firearms en Sports. Daarna soek ek kreefnette. Kom toe reg by die Albatros Kafee waar jy sien hulle regtig cater vir allerhande visgoedtjies. Ek moet sê die prys van die nette het my geskok – R360 ‘n net – bietjie rof as jy my vra, maar nou ja “beggars can’t be choosers”. Verder moet ek nog witmossel kry vir visvang en makriel vir kreefvang. So op die ou einde doen ek toe met ‘n aardige bedraggie afskeid by
hierdie winkeltjie.

Ek bel vir Christo en sê vir hom ek gaan nie langer in Vrdendal bly nie, te besig, en dat ek gaan deurskiet Lutzville toe. Daar gekom, besluit ek om eers maar my diesel weer op te vul. Ek het die heeltyd redelik rustig gery met die waentjie en sien dat ek so 8.1km/l gekry het. Nou moet ek wag vir Christo, so daar is nog so 4 ure wat ek moet brand iewers. Wat van ‘n pub?

Dit vat my nie lank om die Lutzville Hotel op te spoor met sy ‘Publieke Kroeg’ nie. Word baie lekker welkom geheet deur Boetie, seun van die eienaar Frans. Ons praat land en sand, ek drink ‘n paar biertjies en vrae hom uit bietjie oor die Lutzville community. Later word hy afgelos deur Lucy wat oorspronklik van Springbok is, maar besluit het om Lutzville toe te beweeg a.g.v. persoonlike redes.

Lucy, die barmoeder, en die oom wat  glo al vir 30 jaar elke dag hier opdaag

Na ‘n paar uur begin ek bietjie dun raak en Lucy oortuig my om iets te bestel van die kombuis. Ek loer oor die spyskaart en sien iets wat my oog tref – Sjef’s Cordon Blue. Ek sal een van daais vat. Nou ek het al baie Gordon Blues geeet, maar na so ‘n uur kom daar ‘n ding uit die kombuis gewals wat ek nog nooit in my lewe gesien het. Verskriklik lekker….maar verskriklik ryk en ek sou nog baie suffer a.g.v. hierdie besluit. Weereens wil ek net sê : Moerse lekker!.

Nie lank daarna nie, kry ek vir Christo en nadat ons bietjie hout gekoop het en hy sy botteltjie rum en kreeflisensies gekry het, gaan ons verder. Die GPS wys omtrent nog so 50km. Dit is maar ‘n boring entjie. maar ons druk deur en toe begin die soek na ‘n lekka plekkie om te staan. Ry bietjie rond en besluit op ‘n plekkie met ‘n naais baai (S31.23388 E17.83894). (Sou later uitvind die plekkie se naam is Hardslaap). Ons begin tent opslaan en dis nie lank voor Bee ons join nie.

Nou begin ek die effek van die Gordon Blue voel. Ons maak ‘n later ‘n vuurtjie en begin bietjie braai, maar ek sukkel maar. Ons braai lekka skaaptjoppies en ‘n bietjie ‘kartonvark’, maar ek sukkel. Kannie eet nie, kannie drink nie. Ek vra maar vroeg om verskoning en gaan slaap. Hopelik sal ek more bietjie beter voel.

 Sonsondergange langs die weskus is asemrowend

***** Dag 4 – Dinsdag *****

Nou hier het ons besef dat as jy hier wil survive, sal jy definitief skaduwee moet kry. So da gat ek, Christo en Bee en maak ‘n skaduwee kamp wat lyk soos ‘n sjeik se harem daar diep in die woestyn. Ons sit daarna maar bietjie rond en so teen 13h00 kom Hennie en Myired hier aan met hul kinnertjies en sit toe eers vir ‘n tyd saam met ons onder ons nuwe ‘harem’. Dit is eenvoudig te warm om tent op te slaan.

Ek voel nog steeds nie lekker nie. Die Gordon Blue van Lutzville spook nog steeds by by. Die res van die dag bly ons maar in die skaduwee en vermy die bloedige son. Later die aand begin ons bietjie braai. maar ek moet al weer ‘n vroee exit doen…dinge nog nie so lekker nie.

Ek lê in die tent, en ek gaan nou slaap….hier hom ‘n moerse lawaai oor die bult. Dis die naartjie trein. Uit spring Marinus en Chris, meer rasserig as twee geraamtes wat op ‘n sinkplaat spyker. Nou is niemand meer veilig nie. Meeste mense was oppad om te gaan slaap, maar dis nou verby. Daar word weer vuur gemaak en van voor af gebabbel soos klomp ou tannies by die jaarlikse borspeldkompetiese in Calvinia.

 Christo se Karlie besig om in die sand te speel

Die seewier het half ge-fuse met die graniet klippe

***** Dag 5 – Woensdag *****

Nou, die ding hier is dat ons het nog nie juis baie noord beweeg het nie, so ons moet bietjie gaan verken. Bee ken die area redelik goed, so hy ry voor, dan ek, en Marinus en Chris volg in die G4-naartjie kar. Dis regtig ‘n pragtige area die en al die opsies vir plekke om te kamp is net ongelooflik. Ons begin kyk vir kreefgate en merk ‘n paar plekke in ons koppe vir as ons later terugkom.

Terug by die kamp begin ek die kreefnette regkry en haal die makriele wat ek in Vredendal gekoop het uit, om as aas te gebruik. Dis nie lank nie en ek, Marinus en Chris is oppad om ons 12 krewe te gaan haal wat vir ons wag.

Om ‘n lang storie kort te maak – ons vang fokkel. Niks. Zero. Nothing. Konke. Nichts. Fokole.

Baie teleurgesteld en stert tussen die bene gaan ons terug kamp toe. Ons kon al die kreef proe. Chris besluit hy gaan maar ‘n middagslapie vat en ons is verveerld. Besluit toe maar om Chris se tent met cable ties toe te maak sodat hy nie kan uitkom – sal nou maar wag en kyk wat gebeur.

Ons besluit dat ‘n skaappot sal lekker wees en die vleis word uitgehaal. Soos gewoonlik is daar weer te veel kos en moet ons die vleis verdeel tussen 2 potte. Chris en Hennie vat die leisels van die potte.

Intussen het Chris sy lyf Houdini gehou en die cable ties met sy Leatherman bygekom. Mmm, sal volgende keer ‘n ander plan maak….

Myired besluit die stysel is couscous en daar geniet ons ver teen die Weskus op, skaappot met couscous. Die wyn vloei en niemand wil gaan slaap nie. En dan haal Marinus se pas gestookte appelkoos mampoer uit en die sports begin – daai is niemand sel speelmaat nie.

Eers Myired se beurt

.. en to Hennie

Bee…

en dan yours truly

Hieronder gee Marinus ‘n vertoning van die sterkte van die mampoer soos ‘n wafferse vuurspoeger in die sirkus.

Op ‘n kol besluit ek dit is nou sulke tyd, ek moet gaan slaap. Die slaap kom maar moeilik met almal wat nog so om die vuur kekkel en toe ek die plop hoor van nogge bottie wat oopgaan tesame met Chris se ‘nog net een glasie’ vind ek myself weer in my stoel, voor die vuur met nog ‘n glas rooiwyn.

 

***** Dag 6 – Donderdag *****

Marinus lyk maar bek-af die volgende dag. Hy moet teruggaan om die government by die lughawe te gaan optel. So hy pak maar vroeg op en vat die pad.

Die res van die dag het so gegaan:-

“…sit hom in 2de low range en steek hom!…”

Ons het elkeen ‘n stoeltjie onder die skaduwee gekry, die voete onder die sand ingedruk, vasgetrap en bietjie sap gevat….bietjie baie sap gevat.

Bee moet in Piketberg wees, so hy begin stadig oppak en huiswaarts keer.  Teen die aand se kant was dit tyd vir kos maak. Ek het ‘n potbrood gebak en ‘n paar baby hakes op die rooster gebraai – koningskos! Die kuiery om die vuur het nie weer so lank aangehou nie, die sappies het sy tol ge-eis en almal is maar redelik vroeg tente toe.

2de low range

“Special hour”

***** Dag 7 – Vrydag *****

Vroeg die oggend is ek weer by die see met my stok en witmossel, maar die hotnotsvis wil nie byt nie. Die see is ook baie omgekrap en die kreefgate wat die vorige dae nog kalm was, is nou onmoontlik om by uit kom.

Ons volg maar die dieselfde resep as die vorige dag en kyk hoe Hennie en Myired oppak. Hulle wil Strandfontein toe, ‘n bietjie tyd daar spandeer en net weer al die wasgoed en dinge regkry.

Teen die aand se kant besluit ons om solank al die skaduwees af te slaan. Dit gaan dan baie makliker wees om die volgende dag kamp op te slaan. Uiteindelik is ons klaar en nou word daar besluit op die menu.

Ons kom op met skaap tjops, pap en sous. Weereens, kos uit die boonste rakke. Ons sit en vat nog bietjie wyn, totdat Christo op almal begin trap en besluit toe om in te gaan inklim.

Wel, Christo geniet dit…

As die son sak, lyk dit sprokiesagtig

***** Dag 8 – Saterdag *****

Vroeg die volgende dag begin ons afslaan. Jy wil nie op- of afslaan hier as dit warm word. Die afgeslanery vat heelwat langer as wat ons beplan het, maar so teen 10h00 is ons klaar.

Nou is dit trailer haak en teen die bult uit. Trailer haak in dik sand is niemand se maat nie, so dit kos maar die karre lekker naby parkeer om te haak. By die bult volg ek maar die ou beproefde resep “2de low range….”, ja jy ken die res.

Hennie het paar van sy goedtjies vergeet en ons kry hom toe in Doringbaai waar hy en die familie die aand geslaap het. By die Cabin Restaurant kry ons gou iets om te eet, wel dit was veronderstel om gou te wees. Moenie hier eet as jy haastig is nie. Meeste het maar die calamari bestel wat bietjie aan die min kant was, maar baie lekker.

Daarna sit ons toe af Lambertsbaai toe. Gelukkig vertel Hennie ons van die ‘nuwe’ tolpad langs die see af en ons vat met die gevolg dat ons ‘n lang draai uitsny. Daarna is dit Elandsbaai, Dwarskersbos en in Veldrif stop ons toe vinnig. Vra bietjie rond vir bokkoms en vat toe die pad waar ‘n bordtjie aandui ‘Bokkombedryf’. Ons is net-net betyds en koop vir ons lekker vars snoek teen R40 een en bokkoms teen R8 vir 10 op ‘n bossie. Nou gat my kar lekker ruik!

Die res van die pad eet ons bokkoms en drink Energade en kom ons Weskus trippie op ‘n einde.

Dankie aan Christo vir die organisering!

Hier is nog meer fotos!

 

cialis

viagra

(29) views

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.